Kaapstad. – Aan die einde van DreamWorks Animation se Bee Movie vra ’n koei die by of sy kollega, die muskiet, ook ’n prokureur is. Die muskiet antwoord geesdriftig: “Mevrou, ek was nog altyd ’n bloedsuiende parasiet – ek het nog net die tas gekort!”

 

Regskoste is die soort uitgawes waaraan ondernemings langtand betaal. Daarom het Graeme Wilson, ’n prokureur van Mowbray, Whipping the Cat begin om bekostigbare korporatiewe regsdienste aan ondernemings te lewer.

 

“Whipping the Cat” verwys na die gebruik van kleremakers in die 1800’s in Engeland om van dorp na dorp te gaan en pasgemaakte klere vir mense te maak. Die gevestigde kleremakers in Saville Row, Londen, het met dié woorde verwys na die klomp wat weggebreek het om hul eie ding op die platteland te gaan doen.

 

Wilson sê Whipping the Cat wil ’n goedkoop alternatief vir gevestigde regsfirmas wees deur ’n vaste tarief te hef pleks van ’n uurlikse tarief. Die onderneming gebruik tegnologie en die internet om doeltreffend, toegankliker en verbruikersvriendelik te wees.

 

Die onderneming fokus op sake-tot-sake-regsake soos handelsreg, advies, kontrakte en werknemerverwante sake.

 

Volgens Wilson het hul navorsing getoon baie kleinsakeondernemings gebruik nie regsdienste nie weens die hoë koste. “Hulle vat eerder die kans, maar dit kan noodlottig vir hul onderneming wees.”

 

Wilson wil dié mark bereik met pasgemaakte regsoplossings.

 

As ’n koper van regsdienste in die regsafdelings van maatskappye het Wilson gefrustreerd geraak met die hoë uurlikse tariewe van regsfirmas en hoe lank dit hulle vat om sekere goed te doen.

 

Hy meen tradisionele regsfirmas gebruik nie tegnologie so goed as wat hulle kan nie en die regsbedryf is met al die Latynse terme vir baie kliënte in misterie gehul.

 

Wanneer kliënte die spoggerige kantoorgeboue van regsfirmas sien, is hulle onder die indruk dis waarheen hul geld gaan.

 

Wilson het sedert 2005 sy eie regskonsultasiefirma bedryf en aan ’n nuwe sakemodel vir regsdienste begin werk. Whipping the Cat is in September bekend gestel en kry volgens hom reeds heelwat belangstelling.

 

In Brittanje, Kanada en Australië word toenemend meer innoverend en entrepreneuries oor regsdienste gedink, sê Wilson. In Australië is wetgewing goedgekeur wat nie-regslui ook toelaat om belange in regsfirmas te kry. “Die private-ekwiteitbeleggers het toe begin vrae vra oor die ondoeltreffendheid van en gebrek aan tegnologie by die tradisionele regsfirmas omdat hulle ’n beter opbrengs op hul belegging wil hê.”